Why so many Karoo towns have English names

Started by Daan Botes on yesterday
Problem with this page?

Participants:

Showing all 2 posts

WAAROM SOVEEL KAROODORPE ENGELSE NAME DRA.
'n Interesantheid uit die pen van Daniel Lötter.

Ek het dit nog altyd interessant gevind dat die dorpe van ‘n oorwegend Afrikaanssprekende landstreek, feitlik almal Engelse name het. Wanneer ‘n mens ‘n bietjie begin krap om te kyk waar die name vandaan kom, begin daar egter ‘n patroon ontwikkel. Van die deurlopende patrone wat jy opmerk is dat feitlik al ons Karoodorpe hulle ontstaan tussen 1830 en 1870 het. Verreweg die meeste het ontstaan as gemeentes wat afgeskei het van die groter gemeente waarvan hulle oorspronklik deel was. Maar wat die mees opvallende is, is die feit dat die Britse Koloniale beleid van die tydperk sterk impak maak op die benaming, en dikwels herdoping, van die dorpe. Die sterk beleid van Verengelsing wat posgevat het onder Lord Charles Somerset en sy opvolgers, en wat grootliks aanleiding gegee het tot die Groot Trek, het ‘n beslissende invloed. Dit was een van hierdie aksies wat ‘n veel groter invloed gehad het as wat lord Charles ooit vermoed het. In ‘n poging om die aanbidding in die NG Kerk te verengels, voer Lord Charles ‘n klomp Skotse Methodiste in om as predikante te bedien in die nuutgestigte gemeentes. Wat hy nie in gedagte hou nie is dat hierdie hardekop Skotte een ding met die Afrikaners in gemeen het – hulle het nie ooghare vir die Engelse nie. Kort voor lank leer hulle dus Afrikaans/Hollands praat. Meer as een Karoodorp dra vandag nog hulle name.

Hier is so ‘n kort omskrywing van ‘n aantal dorpe se ontstaan, oorspronklike name en hoe die eietydse naam gegee is:

ABERDEEN Die dorp se naam was oorspronklik Brakkefonteyn. Dit is herdoop na Aberdeen in 1858. Hier het die Skotse predikante se koms ook ‘n invloed, want Aberdeen in Skotland is die geboortestad van ds Andrew Murray, wat destyds predikant op Graaff Reinet was. Van die ander dorpe wat vernoem is na hierdie Skotse predikante is:

FRASERBURG …wat in 1851 aangelê is op die plaas Rietfontein en die naam van ds Colin Fraser van Beaufort Wes dra.

MURRAYSBURG …waarvan die naam oorspronklik “Eenzaamheid” was. Die dorp is in 1856 herdoop om die naam van ds Andrew Murray snr te dra. Die “burg” kom nie uit die Duits nie, maar wel van die naam van ouderling Barend Burger. In die proklamasie van die dorp staan ‘n interessante vereiste: Elke dorpserf moes omhein word met ‘n kweperlaning. Daarom is Murraysburg vandag nog die kweperhoofstad van die wêreld – en het vir baie dekades die gehoorsaamste skoolseuns opgelewer!

PEARSTON …het afgestig van die gemeente Somerset Oos in 1850. Hoewel die dorp aanvanklik “Rustenburg” genoem is, is dit in 1850 vernoem na ds John Pears van Somerset-Oos, self ook ‘n Skotse Methodis.

SUTHERLAND …is een van die oudste dorpe in die Karoo. Dit is reeds in 1823 gestig en het aanvanklik die naam “Roggeveld” gedra. Dit is later herdoop om ds Henry Sutherland, ook ‘n Skotse Methodis, se naam te dra. By ‘n ander Karoodorp het die godsdiens en die predikant ook ‘n rol gespeel in die naamsverandering wat plaasgevind het.

CALVINIA is al in 1847 aangelê en het aanvanklik “Hantam” geheet. Dié naam kom van die Khoi-woord !Han=ami, wat beteken: Plek waar die rooi-uintjies groei. Die baie vrome ds Nicolaas Hofmeyr oortuig egter die Hantammers om in 1851 die dorp te herdoop na Calvinia, ter ere van die 16e eeuse Franse Godsdienshervormer, Johannes Calvyn. In daardie jare was die distrik van Calvinia een van die land se grootstes en tot 1994 se herverdeling van plaaslike owerhede was die distrik van Calvinia groter as die ganse Vrystaat! By ander Karoodorpe het politiek ‘n rol gespeel om die dorpe Engelse name te laat kry. Britse goewerneurs en amptenare is dikwels vereer met dorpe wat na hulle vernoem is.

COLESBERG Colesberg het ontstaan as sendingpos met die pragtige naam van “Toverberg” – na aanleiding van die vreemde koppie ‘n ent buite die dorp. Toe dit egter Munisipale status verkry word daar besluit om die dorp te vernoem Goewerneur Sir Lowry Cole.

CARNARVON is nog ‘n dorp wat sedert stigting in 1853 die mooi naam van “Schietfontein” gedra het. Spoedig word daar besluit om dit te vernoem na Lord Carnarvon, die Kaapse Koloniale Sekretaris wat dieselfde posisie beklee het vir ‘n rekordtyd van 59 jaar en 4 maande. Ek vermoed hy is dood voordat hy afgetree het!

VICTORIA-WES, wat as gemeente aangelê is in 1843, het sommer met die afskop besluit om die nuwe jong koningin Victoria te vereer deur die naam te verander van “Zeekoegat” na Victoria. In die vaste vertroue dat dit nog eenmaal ‘n groot en belangrike sentrum gaan word, neem hulle in ag dat Australië reeds ook ‘n “Victoria” het en om verwarring te voorkom vir die toekomstige geslagte, voeg hulle 1855 die “Wes” by.

Nog ‘n koninklike vernoeming het plaasgevind by een van die oudste Karoodorpe. Reeds sedert 1762 dra die dorp die naam van “Queekvalleij”. Met die koms van die Britte in 1803 word dit versigtig verander na “Albertsburg”. Pas nadat Victoria Wes egter besluit om die jong koningin te vereer, besluit die mense van Albertsburg om dan nou maar die laaste stap te neem en die koningin se man, prins Albert van Sakse Coburg te vereer. En daarom heet die dorp sedert 1845 PRINS ALBERT.

PHILIPSTOWN dra ook die naam van ‘n Britse goewerneur – sir Philip Wodehouse, wat dorpstigting in 1863 goedkeur.

LAINGSBURG het sekerlik een van die mooiste oorspronklike naam gehad: “Vischkuil-aan-de-Buffelsrivier”. Die naam word in die 1870’s verander na “Nassau” – een van die titels van die prins van Oranje. Toe die dorp egter in 1881 geproklameer word, (dit sou eers in 1904 ‘n Munisipaliteit word) word dit egter vernoem na die Koloniale Sekretaris vir Kroongronde, John Laing. Twee interessante gevalle kom voor waar twee buurdorpe hulle name gekies het om twee Engelsmanne te vereer wat van hulle bestaan salig onbewus was, en wat ook nooit voet aan wal sou sit in hierdie suiderland nie.

BEAUFORT WES sou aanvanklik vernoem word na Lord Charles Somerset. Daar was egter reeds ‘n Somerset-Oos en ‘n Somerset-Wes. Charlestown wou nie lekker klink nie. Op versoek van lord Charles vernoem hulle die dorp derhalwe na Sir Henry Somerset, die 5e Hertog van Beaufort – lord Charles se gesiene pa! Om verwarring met Port Beaufort en Fort Beaufort te voorkom, word die “wes” toe bygevoeg om aan te dui dat die plek nie in die Oostelike provinsie lê nie.

Op RICHMOND gebeur ‘n soortgelyke ding. Die begeerte is om die goewerneur, sir Peregrine Maitland, te vernoem. Maar daar bestaan al ‘n Maitland, sommer op die ou sir se voorstoep in die Kaap. Peregrine klink weer baie uitlands, en te verstane ook, want in Latyn beteken dit immers: “Man van ‘n ander land”. Sir Peregrine los die probleem self op: Noem dan maar die plek na my skoonpa, die Hertog van Richmond!

Die laaste Karoodorp wat sy naam verander om ‘n Britse Koloniale amptenaar te vereer vind so laat as 1919 – minder as 100 jaar gelede plaas. WILLISTON se naam was aanvanklik “Amandelboom” omdat Abraham Nel in 1768 ‘n amandelboom daar geplant het op die geboortedag van sy eerste seun. Dié boom het later ‘n reusagtige landmerk geword. Waarom daar dus in 1919 besluit word om Kolonel Hampden Willis te vernoem weet ons nie, veral aangesien hy net vir ‘n kort periode in 1883 in die Kaap rondgeloop het en toe koers gekies het Indië toe.

LOXTON is een dorp wat die naam van ‘n Engelsman dra wat niks met die kerk of die regering te doen het nie. Die oorspronklike naam was “Phezantefonteyn”. Toe dit in 1899 Munisipale status verkry word die naam verander na die naam van die eienaar van die plaas – AE Loxton.

OUDTSHOORN het ook besluit om die dorp, wat sedert stigting in 1838 “Hartbeestrivier” genoem is, se naam te verander na ‘n Koloniale politikus. Maar hier gebeur ‘n vreemde ding. Dit was reeds 1847 en die Britse bewind aan die Kaap was al byna 50 jaar oud. Nogtans word daar besluit om die naam van Baron Pieter van Rheede van Oudtshoorn te vereer. Baron van Oudtshoorn was ‘n Hollander wat in 1772 deur die VOC na die Kaap gestuur is om goewerneur te word. Hy is onderweg op die skip oorlede en het nooit voet aan wal gesit nie. Nie-amptelik het Oudtshoorn ook die naam van “Velskoendorp” gedra omdat die snobistiese buurdorp, George, die inwoners van die Kannaland as takhare beskou het!

‘n Engelse dorpsbenaming van totaal ‘n ander aard gebeur in 1856 toe die twee dorpe, Hopedale en Lyons besluit om te verenig in een dorp. Die naam waarop daar besluit word is UNIONDALE

En dit laat een Karoodorp met ‘n Engelse naam waar Cupido en sy pyltjies die bepalende faktor was. Tydens die Napoleontiese oorloë en lord Wellington se veldtog in Spanje, is daar ‘n jong soldaat wat een oggend by ‘n Spaanse kasteel opdaag. Hy is net betyds om die 17 jarige Spaanse edelvrou, Juana María de los Dolores de León, te red uit die hande van die plunderende Britse soldate. Hoewel hulle nie mekaar se taal verstaan nie, is dit liefde met die eerste oogopslag. Brigadier Generaal Sir Harry Smith sou baie jare later goewerneur aan die Kaap word, en sy beeldskone Spaanse donna een van die gewildste goewerneursvroue in die geskiedenis. Daarom besluit “Elandsvlei” in 1862 om haar te vereer deur hulle dorp LADISMITH te noem – doelbewus gespel met ‘n “I” omdat Natal reeds ook ‘n dorp het wat na haar vernoem is – Ladysmith.

Dit laat nog heelwat Karoo dorpsname met geografiese oorsprong waar landmerke in die naam vermeld word, soos Middelpos, De Aar, Matjiesfontein en Drie Susters.

‘n Paar name van Afrikaanse oorsprong is daar ook: Merweville, Jansenville, Steytlerville, Nelspoort, Britstown, Vosburg, en Wagenaarskraal.

Uit die natuur kom die name van Willowmore, Klaarstroom, Loeriesfontein, Noupoort en Leeu Gamka.

Drie Karoodorpe deel hulle name met plekke in Europa: Middelburg, wat ‘n suster in Nederland het en Hanover wat weer ‘n familiestadjie in Duitsland het. En natuurlik Nieu Bethesda wat ‘n naam deel met ‘n plek in die Heilige Land wat in die Nuwe Testament vermeld word. Maar dis anderdag se storie.

Daniel Lötter 24-02-2017

www.geni.com/media/proxy?media_id=6000000215907485844&size=large

Showing all 2 posts

Create a free account or login to participate in this discussion